Welkom by Impala Voortrekkers

‘n Moderne en dinamiese organisasie wat verloop in die ontwikkeling van jong Afrikaanse leiers

Afrikanerskap, Burgerskap, Christenskap

Ontdek deur Kultuur, Avontuur, Natuur

Uitstappies, Kampe, Staptoere, Vlotvaarte, Nagmarse – Die lys hou aan!

Word deel van n' span

Dit maak nie saak wat jou talente is nie – Daar is altyd pelk vir jou by die Voortrekkers.

Leierskap Span

Kommandoleier: Annemarie Grobbelaar

AKL PD Sake: Vilene Nieuwoudt

AKL Verkenner: Rassie Bruwer

AKL Volwasse Sake: Bonnie Warden

AKL Finansies: Rialda Piek

AKL Administrasie: Annelie du Plessis

AKL Terreine: Bonnie Warden

AKL Bemarking: Ronelle Berry

Algemene Inligting

ONTDEKKER

  • Ontdekker is ‘n voorskoolse Voortrekker seun of dogter wat uitsluit GR R.
PENKOP EN DRAWWERTJIE
  • Penkop is ‘n Voortrekker seun in die ouderdomsgroep van GR R tot Gr 7 . (Laerskool)
  • Drawwertjie is ‘n Voortrekker dogter in die ouderdomsgroep van GR R tot Gr 7. (Laerskool)
VERKENNER
  • Verkenner is ‘n Voortrekker seun of dogter in die ouderdomsgroep van GR 8 tot GR 12. (Hoërskool)
STAATMAKER
  • Staatmaker is ‘n jong volwassene tussen die ouderdom van 19 en 28.

JEUGVRIEND

  • Jeugvriend is ‘n vrywillige volwassene wat die kommando ondersteun en hulp verleen waar nodig.

HEEMRAAD

  • Heemraad is ‘n volwassene wat die kommado offisiere ondersteun of instaan vir kommando offisiere by Voortrekker aktiwieteite en hulp verleen waar nodig.

OFFISIER

  • Offisier is ‘n volwassene wat die kommando jeug in span verband lei en voorberei vir die toekoms.

KAMPE

Alle kampe en spesialiesasies is opsioneel. Spankampe word binne spanverband gereël. Ander kampe sluit in:

  • ‘n Kommandokamp
  • Vyf jaarlikse Kommandotoer
  • Gebiedskampe .

KLEREDRAG

Klere kan by die Impala Voortrekker kantoor aangekoop word, of direk by die Voriemôl in Villieria aangekoop word.

  • Voortrekker Hempie: Die Navy Blou gholfhempie met Voortrekker wapen word gedra deur Penkoppe of Drawwertjies by Impala Kommando. Die Rooi gholfhempie met Voortrekker wapen word gedra deur Verkenners by Impala Kommando.

LW: Hierdie is slegs vir onderskeiding tussen oudersgroepe in Impala Kommando en is nie die reël in die Voortrekker beweging nie.

Dit word gedra met ‘n netjiese denim en tekkies en word dan AKTIEWE DRAG genoem. Jou kind moet so ‘n hempie hê alvorens hy/sy ingelyf word, dus moet dit in die loop van sy eerste Voortrekkerjaar aangekoop word.  

  • Erkenningsbaadjie : Navy blou onderbaadjie waarop al die kentekens aangewerk word. Wanneer die PD’s dit saam met die AKTIEWE DRAG dra met ‘n denim langbroek, word dit FORMELE DRAG genoem. Vanaf Graad 4 is die dra van die onderbaadjie vir formele drag in ons kommando verpligtend.

LW: Verkenners se formele drag verskil van dié van die PD’s – kontak gerus jou offisier vir meer besonderhede hieroor..

  • Spandrag: Onderling in spanverband gereël om spanidentiteit te bevorder.
SPANBYEENKOMSTE

Weeklikse spanbyeenkomste (of soos in spanverband ooreengekom) word gehou. Die spanoffisier sal die spesifieke dag, tyd en plek met die span kommunikeer.

 

SPANFONDS

Impala Kommando bied elke span die geleentheid om ‘n spanfonds op te bou d.m.v. donasies, kos verkope by kommando byeenkomste, speletjies aande wins ens. Hierdie spanfondse kan deur die spanoffiser, met ouer toestemming, gebruik word om namens die span aankope te doen of ‘n uitstappie te borg of om die koste vir aktiwiteite te verminder.

 SPESIALE ONDERSKEIDINGS (SPESIALISASIES)

Die verwerwing van spesialisasies (kentekens) is opsioneel en word op ‘n vrywillige basis gedoen. Moedig die kinders asb. egter aan om minstens 2 spesialisasies vir die jaar te probeer verwerf – daar is ‘n groot verskeidenheid om van te kies en dus êrens iets vir elkeen se belangstelling. Behalwe dat dit interessant is, is hulle tog aan die einde van die dag baie trots as hulle die kentekens ontvang. Die verwerwing van ‘n sekere aantal spesialisasies is ook ‘n voorvereiste vir die Voorslag (Gr7) en Presidentsverkenner (Gr 12) toekennings.

  • Kentekens in spanverband: Die spanoffisier sal aan die begin van die jaar een of 2 spesialisasies identifiseer wat in spanverband gedoen sal word. Hy/sy sal jou van die kostes, indien enige, in kennis stel, asook van ‘n lys van items wat benodig sal word, indien van toepassing. Aangesien een van die vereistes is dat daar ‘n sekere aantal ure aan die werk spandeer moet word, moet jy asseblief seker maak dat jou kind die spanbyeenkomste gereeld bywoon sodat hy/sy nie gepenaliseer word nie. Evaluasie vind ook plaas alvorens die spesialisasie toegeken kan word.
  • GGA/GGN Kentekendae: By ‘n Gebiedsgoedgekeurde Aktiwiteit/Naweek (GGA/GGN) kry jou kind geleentheid om spesialisasies waarin hy belangstel, en wat nie in spanverband gedoen word nie, te doen. Dit vind deur die loop van die jaar, gewoonlik op ‘n Saterdag (GGA), of oor ‘n hele naweek (GGN) plaas. Jou spanoffisier sal jou in kennis stel van opkomende kentekendae. Daar sal streng by sluitingsdatums vir inskrywings gehou word en GEEN inskrywings sal verwerk word indien die bewys van betaling nie daarby aangeheg is nie. Inskrywings word aan die spanoffisier gestuur.

LW: Daar word gewoonlik vereis dat minstens 1 volwassene per span wat die dag bywoon, die kinders moet vergesel vir toesigdoeleindes. Spanne se ouers moet self onderling reël (of vooraf ‘n rooster opstel) van wie watter dag die toesighouding gaan waarneem. Indien daar nie volwasse toesig is nie, kan die kinders se inskrywings geweier word. Volwassenes wat die dag meemaak betaal ‘n nominale inskrywingsfooi vir middagete/verversings en daar word na so persoon verwys as ‘n Meeloper.

  • Gebiedskampe: Vanaf graad 4 (sommige kampe Graad 3) kan die kinders tydens vakansies op gebiedskampe gaan. Dit is kampe wat deur die Transvaalse Gebied gereël word en waarheen kinders van alle kommandos kan gaan. Elke kind besluit self of – en watter- kamp hy/sy wil bywoon. Hoewel nie verpligtend nie, is bywoning van ‘n sekere aantal kampe wel ‘n voorvereiste vir die Voorslag (Gr 7) en Presidentsverkenner (Gr 12) toekennings. Gebiedskampe word oor die algemeen nie in spanverband gereël nie, hoewel lede van ‘n span kan besluit dat hulle saam ‘n sekere kamp wil gaan bywoon. Die spanoffisier is ook nie noodwendig by die kamp betrokke nie en as hy/sy wel gaan, nie noodwendig by jou kind se groep nie. Tydens hierdie kampe word daar dan ook aan spesialisasies gewerk. Omdat langer tyd beskikbaar is, word die spesialisasies meer in diepte en meer prakties aangebied.Die verblyfsreëlings verskil van kamp tot kamp – by sommige moet die spanne/lede self tente voorsien (verkieslik nie klein 2-man tentjies nie) en by ander word weermagtente voorsien, waarin die kinders dan opgedeel word. Hierdie kampe is ‘n wonderlike geleentheid vir jou kind om nuwe maats te maak en sy selfvertroue te ontwikkel. As dit enigsins moontlik is, beveel ons aan dat elke kind probeer om minstens 1 gebiedskamp elke jaar of 2 te doen.

LW. Daar word gewoonlik vereis dat ‘n kommando minstens 1 volwassene vir elke 6-8 kinders wat die kamp bywoon, saamstuur vir toesigdoeleindes. Indien die offisier nie self die kamp gaan bywoon nie, moet die ouers dus self reël vir ‘n volwassene om saam te kamp, indien daar nie reeds genoeg is nie. Indien daar nie genoegsame volwasse toesig is nie, kan die betrokke gebiedskamp die kinders se inskrywings weier.

  • Kamp kostes: Die kostes van kampe wissel en die metode van betaling vir elke kampe wissel ook. Vind gerus uit by die spanoffisier of Impala Kommando kantoor uit oor die kostes en betalings metode.

SKOOL ERKENNING

Impala Kommando en ons voedingsskole het ‘n ooreenkoms dat as die jeug lid voldoen aan seker vereistes die jeug lid erkenning by die skool kan werf in die vorm van erkende skool toekennings.

Kliek hier vir ‘n voorbeeld van vereistes vir erkenning by Hoërskool Kempton Park.

LW. Hierdie vereistes mag verander van jaar tot jaar, vind gerus uit by die spanoffiser of Impala Kommando kantoor.

LEDEGELD

Die Voortrekker beweging vra ‘n jaarlikse bedrag vir ledegeld.

Die ledegelde vir 2024 by Impala Voortrekkers is as volg:

  • 1ste lid in huisgesin = R840
  • 2de lid in huisgesin = R810
  • 3de lid in huisgesin = R780
  • 4de lid in huisgesin = Gratis

Hoekom betaal ek ledegeld:

TERREIN VERHURING

Impala Voortrekkers se terrein kan gehuur word vir persoonlike funksies oor naweke.

Kliek hier vir die huur kontrak of kontak gerus Impala Voortrekkers vir die kostes verbonde aan die huur van die terrein.

Kontak Ons

4 + 2 =